Numeri vertel dat Israel se hede en toekoms verbind is aan die God wat by Sinai met haar gepraat het. Dit getuig weereens dat God se teenwoordigheid sentraal staan tot wie Israel is. Nie die geografie nie, nie die plek nie, maar God se teenwoordigheid is van belang. Israel oorleef die onherbergsame woestyn deur haar te onderwerp aan God se instruksies. Binne die kamp is daar lewe en buite die kamp is daar dood. Die woestyn kamp antisipeer dus lewe in die Beloofde Land.
Numeri leer vir Israel dat hierdie Beloofde Land waarop sy wag is maar ’n uitbreiding van die woestynkamp. Eens in die land sal haar rede vir en karakter van lewe nie verander nie, die reis kom maar net tot ’n rusvolle einde. Indien Israel gewoond daaraan kon raak om saam met God in die woestynkamp te lewe, sal sy ook saam met God in die land kan leef. Dit is die boodskap van Numeri. Die dissipline van die woestyn kamp is ’n voorsmakie en pand van die beloofde toekoms. Lewe in die liggaam van Christus is ook nie anders nie.
Ook vanoggend is dit God se teenwoordigheid wat van belang is, nie die plek of die gebou nie. Numeri nooi God se volk vandag nog uit om altyd oor die lewe in die land in terme van die woestynkamp te dink. Die Here soek Sy mense rondom Hom. God nooi jou uit om soos Israel jou lewe te sentreer rondom die tabernakel – rondom Christus wat deur Sy Woord en Gees by ons is.
Daarom dat ons die Woord van die Here oordink vanoggend uit Numeri 6:22-27. Hierin hoor ons eerstens oor die seëning wat beveel was (22-23). Tweedens oor die seëning wat ontvang is (24-26) en laastens oor die seëning wat bevestig is (27). Met hierdie seën van die Here sal elkeen van ons ook die hemelse Kanaän ingaan:
22EN die Here het met Moses gespreek en gesê: 23Spreek met Aäron en sy seuns en sê: So moet julle die kinders van Israel seën deur vir hulle te sê: 24Die Here sal jou seën en jou behoed; 25die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en en jou genadig wees; 26die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee. 27 So moet hulle dan my Naam op die kinders van Israel lê; en Ék sal hulle seën.