In ons geestesoog kan ons Sondag in Josua vir Israel daar op die vlaktes van Moab sien, oos van die Jordaan. Meeste van die mense wat uit Egipte verlos was het teen die tyd reeds in die woestyn omgekom. Op die drumpel van die beloofde land moes Israel weer omdraai omdat sy nie saam met God wou intrek nie.
En nou byna 40 jaar later staan Josua, Moses se opvolger, hier by ’n tweede generasie Israeliete om hulle die land in te lei. Maar met alles wat hulle die afgelope 40 jaar ervaar het, ken hulle steeds nie die pad nie. Nie net ken hulle nie die pad nie, maar daar is groot onmoontlikhede voor hulle: ’n Jordaan rivier wat vol was op al sy walle en vyandige volke – die Kanaäniete en Hetiete en Hewiete en Feresiete en Girgasiete en Amoriete en Jebusiete. En wat Israel benodig het in hulle grootse uur van beproewing was God se leiding.
En daarom te midde van al hierdie vrese kom die Here en beveel: “Wanneer julle sien die Levitiese priesters dra die verbondsark van die Here julle God, moet julle van julle staanplekke af vertrek en die ark volg (3:3). Die verbondsark het die twee tafels van die wet bevat. En bo-op die ark was die versoendeksel. Aan die een kant was die wet wat Israel herinner het aan haar sonde. Maar aan die ander kant het die ark getuig van die versoening. Die versoendeksel was die enigste voorwerp van die ark wat van soliede goud gemaak was. Op die versoendeksel was die bloed van die offer een maal per jaar op die Groot Versoendag gesprinkel. Die versoendeksel was die heiligste voorwerp in die hele Ou Testament, want dit is van hier waar die Here gepraat het. Dit is die simboliese troon van die Here.
Die verbondsark herinner dat dit slegs daar bo die genadetroon kan wees waar die Here gemeenskap met sondaars kan hê. Die versoendeksel verkondig dat daar vergifnis van sondes voorsien word deur God self. Soos die gerubs met hul bedekte vlerke oor die deksel gestaan het, so verkondig die versoendeksel die bedekking van ons sondes. Die verbondsark wys na die bloed van Christus wat ons van alle sonde reinig. Wanneer jy die ark sien, wanneer jy Christus en al sy sorg sien, dan kan jy die toekoms intrek. As jy nie die pad vorentoe ken nie, dan trek die Here voor jou uit. Ook in 2018.