OOR ONS

Die NG Gemeente Port Elizabeth-Oos deel ons Christelike geloof in besonder met daardie kerke wat uit die Reformasie van die 16e eeu gegroei het, en daarom onderskryf ons die Drie Formuliere van Enigheid – die Nederlandse Geloofsbelydenis (1559), die Heidelbergse Kategismus (1561) en die Dordtse Leerreëls (1618-1619).

Ons kyk uit oor Algoabaai, met uitstekende toegang tot die hoofroetes van die metropool. Die gemeente is geleë in die geskiedkundige Suideinde, en bestaan hoofsaaklik uit moderne meenthuiskomplekse.

Roeping: Ons bestaan om die Woord van God aan alle volke en mense, sonder enige onderskeid te verkondig en bekend te stel, met die eis tot bekering en geloof. Ons word gestuur om hierdie evangelie nie net hoorbaar te verkondig nie, maar ook sigbaar en voelbaar. Dit is ons gemeenskap aan die evangelie (Fil.1:5).

Visie (wat die roeping dryf): Die liefde van God is geopenbaar daarin dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

God het Sy Seun gestuur en stuur ook uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. God roep en stuur ook ouderlinge om Sy huishouding te bestuur en diakens om armes en bedroefdes te help. Elke gelowige word ook geroep deur God en gestuur om lig vir die nasies te wees. Deur hierdie middele word die mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde. Die toorn van God bly egter op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Daarom is die primêre taak van die kerk die verkondiging van die Woord van God en die bediening van die sakramente.

Geloof sonder dade is egter dood: “want die oordeel is onbarmhartig vir hom wat nie barmhartigheid beoefen het nie.”Ons godsdiens moet daarom nie net blyk uit ons ure van gebed nie, maar veral ook uit wat ons doen as ons van ons knieë af opstaan. God wil gedien word ook in ons diens aan ons naaste. Ons is oortuig dat die toets vir die egtheid van ons geloof aangelê sal word by wat ons doen in die gewone dinge van die lewe: elkeen moet daarom oral ’n gestuurde wees.

 VOORAF GESKIEDENIS

Dankbetuiging aan Ds. Bas Peters wat met die 50 jarige feesvieringe van die gemeente hierdie gedenkskrif saamgestel het oor die geskiedenis van die gemeente:

bullen-straat

Die eerste gemeente in Suideinde, Port Elizabeth-Suid, is in 1929 van Port Elizabeth-Sentraal afgestig.  Die gemeente gebruik die kerkgebou in Bullenstraat met die Petrasaal net langsaan.

Gedurende 1950 bekom die gemeente ‘n erf in Vierdelaan Walmer en laat bou in 1951 ‘n nuwe kerk op die eiendom.  Die naam van die gemeente word verander na Port Elizabeth-Walmer.  In hierdie stadium het die gemeente die hele gebied van Suideinde, Walmer, Mount Pleasant, Charlo, Lorraine, Schoenmakerskop, Somerstrand, Humewood, Foresthill, Humerail en Southdene bedien.

STIGTING VAN DIE NUWE GEMEENTE

In Julie  1952 word ‘n nuwe gemeente, Port Elizabeth-Oos, afgestig wat die volgende gebiede insluit:  Suideinde, Schoenmakerskop, Somer-strand, Humewood, Forest Hill, Humerail en Southdene. Ds. Johannes Hendrikes Siebert van Port Elizabeth-Walmer word beroep as eerste leraar van die gemeente.

Die eerste skriba van die gemeente is diak D.S. Marais (sonder salaris), eerste kassier:  mnr G. Hayward (£6 per maand), eerste koster: mnr C.J. Viviers (£10 per maand) en eerste orrelis:  mnr S.C. van Rensburg (£10 per maand). Laasgenoemde tree op by alle eredienste, bidure, begrafnisse en Sondagskool en moet ook ‘n koor afrig.  Vir speel by troues word ‘n bykomstige vergoeding van £1:1:- betaal.

Drie Sondagskoolhoofde word verkies vir die drie Sondagskole: Bullenstraat: diak W. Vorster, South-dene: oud W.D. Strydom, Foresthill: mnr P.J. van Vuuren en as sekretaresse:  mej. S. Oberholzer. ‘n Bankrekening word geopen by Volkskas Bpk. Port Elizabeth in die naam van Ned Geref Gemeente Port Elizabeth-Oos.  Hierdie rekening word vandag steeds gebruik, tans ABSA bank. Mnr. S.J. Wolmarans, later saakgelastigde van die Sinode van Oos-Kaapland, word aangestel as eerste ouditeur.

As bruidskat ontvang die gemeente vanaf die gemeente Port Elizabeth-Walmer die kerk en saal in Bullenstraat.  Daar was egter steeds ‘n verband op die eiendom geregistreer, dus kon die eiendom nie op die naam van die gemeente oorgedra word nie.  ‘n Ooreenkoms word met Walmer  aangegaan, nl dat Port Elizabeth-Oos die uitstaande bedrag van die verband sal aflos deur die maandelikse paaiement aan Walmer oor te betaal en dat die eiendom in die naam van Port Elizabeth-Oos geregistreer sal word sodra die verband ten volle betaal is.

BEDIENINGSTYDPERKE

1952-1962 – Ds J.H. Siebert

Ds. Johannes Hendrikes Siebert (1952-1962) was die eerste leraar van die gemeente

Die eerste lidmate register word saamgestel uit ‘n opname wat die diakens in hulle wyke gemaak het.

Die eerste kerkraadsvergadering, op 7 Augustus 1952, word gelei deur ds. J.H. Siebert, toe nog konsulent van die gemeente.

Op hierdie vergadering word besluit dat drie spesiale busse van Southdene en Forest Hill moet loop om gemeentelede na die kerk te bring en dat die rekening deur die gemeente vereffen word.  In 1957 word probleme ondervind met mense wat van die gratis busdiens gebruik maak, maar nie om kerk toe te gaan nie.

Van die kinders wat die Bullenstraat Sondagskool bywoon word verwag dat hulle ook die erediens in die oggend sal bywoon om te kwalifiseer vir ‘n diploma.  Kinders ontvang ‘n kaartjie wat hulle aan hulle Sondagskoolonderwyser moet oorhandig as bewys dat hulle die erediens bygewoon het.  As kategeseboeke word die Kortbegrip en die Kinder-bybel gebruik.

Op 17 Oktober 1952 word besluit dat ‘n sustersbiduur ingestel word en dat dit deur die eggenotes van die ouderlinge gereël en waargeneem word.   Sedert 1956 word die sustersbiduur een maal per maand, na die aanddiens, gehou.  Ook word verlof verleen vir die stigting van ‘n Vroue Sendingbond in die gemeente.  Ds Siebert tree self op as voorsitter. Gemeentelike bidure word elke Woensdag in die kerk gehou (leraar) asook in die buitewyke (ouderlinge).

Op ‘n gemeentevergadering gehou na die aanddiens op 24 Aug 1952, besluit die gemeente eenparig dat die besluit van die kerkraad om ‘n pastorie aan te koop, tot ‘n bedrag van hoogstens £5000, hulle goedkeuring wegdra en uitgevoer kan word.  Intussen sal ds. Siebert by br Marais inwoon totdat ‘n pastorie aangekoop is.

Goedkeuring word verleen op 17 Oktober 1952 om ‘n eiendom geleë te Victoriapark Pad 35, aan te koop as pastorie vir die gemeente.  Ds J.H. Siebert en diak Marais sal die nodige dokumente onderteken.  “n Lening word by Saambou aangegaan teen 5% rente per jaar.  Koopsom:  £5137.10:- en £150 Hereregte.

‘n Nagamaalservies (drinkbeker, skinker en kelkies) word deur die ACVV van Port Elizabeth-Suid geskenk (dit word vandag nog gebruik).

Op die Ringsitting van 1952 het die Ring besluit op ‘n gesamentlike Pinkster in 1953 in die Veremark-saal.  Die kerkraad besluit: “’n Grootse poging sal aangewend word om al dié wat van die kerk afgedwaal het, terug te bring na die kerk”

In 1953 besluit die kerkraad dat daar twee aannemings (bevestiging van nuwe lidmate) per jaar sal wees en dat katkisasie daarvoor 3 maande sal duur.  1954 se katkisasieklas sal  6 maande duur en begin in Julie 1953. Aan die begin van 1954 sal daar 14 dae katkisasie wees.  Katkisante moet eers ‘n skriftelike eksamen slaag om toegelaat te word  tot die 14 dae katkisasie.

Teen die einde van 1953 is die kerk en die saal nog nie oorgedra in die naam van die gemeente nie aangesien die verband by Old Mutual steeds in die naam van Walmer geregistreer is. Die oordrag van die eiendom realiseer eers teen die einde van 1957.  Die kerkraad is bereid om die helfte van die oordragkoste te betaal

Nagmaalsviering:  Saterdagaand –Voorbereidings-diens; Sondag – Vroeë biduur; Nagmaal, ’n kinder-diens die middag en die aand ‘n dankseggingsdiens.  Nagmaal sal tuis bedien word aan persone wat glad nie meer in die kerk kan kom vanweë swak gesondheid nie (hoogstens drie persone per Nag-maal en moet vooraf aansoek doen).  Op 8 Augustus 1958 word besluit dat Nagmaal vir ‘n proeftydperk van een jaar tydens die aanddiens sal wees.  Dit  blyk ‘n groot sukses te wees en teen die einde van 1959 word besluit dat die reëling so sal bly.

Daar word gereeld in notules melding gemaak van tug tov egpare  wat ‘n kindjie wil doop wat gebore is uit ‘n voorhuwelikse verhouding.  In een geval word goedkeuring verleen vir die doop van ‘n kindjie van ouers wat ”in sonde saamlewe”, maar dat die ouers nie by die doop sal staan nie, maar wel die getuies.

Op 14 Nov 1955 word besluit om ‘n Evangelisasie-kommissie te benoem.  In die notule van 5 Des 1955 word die eerste keer melding gemaak van die bestaan van ‘n armesorgkommissie, en op 4 Desember 1957 word die  Jeugkommissie en Sendingkommissie bygevoeg.

In 1955 doen die kerkraad deur die Ringsarme-sorgkommissie aansoek by die Algemene Arme-sorgkommissie (AKK) om ‘n toelaag om die kerkraad in staat te stel om ‘n hulpleraar vir Southdene en twee ander wyke aan te stel.  (Teen ‘n basiese salaris van £41:13.4, duurtetoelaag van £14:14.8 en £3:12.0 vir vervoerkoste, in totaal £60 per maand.)  Eerwaarde Wentzel word op kontrak aan-gestel.  Hierdie kontrak word vir 6 maande verleng tot Maart 1957.  Op die volgende kerkraads-vergadering  word revisie gegee vir hierdie besluit, nl dat eerw Wentzel se dienste slegs tot Des 1956 benodig word.  Die motivering vir hierdie revisie is ‘n aanbeveling van die Ring van Port Elizabeth dat die gemeente dit moet oorweeg om ‘n medeleraar te beroep.  Daar sal gepoog word om die dienste van ‘n proponent vanaf Jan 1957 te bekom.

Vroeg in 1957 word besluit om daarvan af te sien om ‘n proponent te bekom en dat met die beroeping van ‘n medeleraar gewag word tot later in die jaar.  Tot dan sou ander leraars gevra word om elke tweede Sondagaand ‘n diens in Southdene te hou.  Tydens ds. Siebert se verlof van 3 weke in Junie 1957 neem prop R.C.H. Kemp waar.  Ds. Siebert versoek die kerkraad om tydens sy afwesigheid vir prop Kemp goed te ontvang “en onder geen omstandighede die moontlikheid van ‘n beroep hierheen te bespreek nie.”

Op 11 Oktober 1957 vra ds. Siebert dat op die volgende vergadering ‘n besluit geneem sal moet word oor die beroeping van ‘n medeleraar aangesien hy nie meer kans sien om die hele gemeente alleen te bedien nie.  Tydens ‘n gekombineerde kerk-raadsvergadering gehou op Sondag 8 Des 1957, na die oggenddiens, word prop Kemp beroep.

Sedert 1954 onderhandel die kerkraad met die Munisipaliteit oor die aankoop van erwe in die nuwe Humewood-uitbreiding met die oog op die bou van ‘n saal.  In Sept 1955 word besluit om drie erwe  wat die Stadsraad voorgestel het aan te koop vir £1378. Die bedrag is later verminder tot £1078, betaalbaar met kaart en transport.  Aansoek word gedoen om die boubeperking van 5 jaar te verleng na 7 jaar,maar dit word nie goedgekeur nie.Die Raad verkry vrystelling van Hereregte op die erwe.

Ds Siebert tree op 9 Jan 1960 in die huwelik en die kerkraad aanvaar verantwoordelikheid vir die
resepsie en die koste daarvan – troukoek en blomme uitgesluit.

‘n Nuwe orrel vir die gemeente word aan die begin van 1955 in gebruik geneem.  Dit is aangekoop teen  £ 1650 wat in 3 paaiemente betaal is. Vyfhonderd programme word gedruk.  ‘n Kollekte vir die orrel-fonds word opgeneem.  Aanvanklik sou die ou orrel nie verkoop word nie; tog word dit later vir £10 aan die leraar verkoop.  ’n Stem- en onderhoud-skontrak word met SA Orrelbouers aangegaan.  Gemeentelede mag die orrel bespeel, met goed-keuring van die kerkraad, teen ‘n fooi van £1 per maand vir volwassenes en 10/-. vir skoliere.  Die orrel word vir £2000 by Old Mutual verseker.

Die orrelis mag met die toestemming van die kerkraad lesse op die orrel aan leerlinge gee en

elke leerling moet £1 per kwartaal aan die kerk betaal.  ‘n Ouderling kla oor die gehalte van die orrelspel van die orrelis en die koorafrigting.  Gevolglik word   besluit dat die orrelis ‘n salaris-verhoging van £2 per maand kry sodat hy verdere orrellesse by ‘n gekwalifiseerde orrelis kan neem.  Die studietoelaag van £2 word in 1960 terug-getrek.

Volgens die notule van 12 September 1952 is die kerkraad verontrus oor die behuisingsnood van die lidmate en voel dat by die plaaslike owerhede en die staat aangedring moet word om huise tot beskikking van blankes te stel.  Persone wat geen huisvesting het nie, of wat in klein kamertjies of motorhuise saamgehok is, moet hulle by die kerk-raad aanmeld.  Die kerkraad verleen dikwels hulp aan behoeftige lidmate wat nie hulle huurgeld kan betaal nie deur die agterstallige huurgeld te betaal.

Die diakens word dikwels aangespreek omdat hulle nie gereeld elke maand die ingesamelde dankoffers inbetaal nie.  Op een vergadering het ds Siebert gesê dat hy nooit weer daaroor sal praat nie en dat dit ‘n saak is tussen die diaken en die Here.  In 1953 besluit die kerkraad dat ‘n diaken wat nie voor die 28ste van die maand inbetaal nie, ‘n boete van 10% van die bedrag wat inbetaal moes gewees het, sal betaal.

‘n Opvoedingsfonds word in 1955 gestig.  Elke kwartaal word £5 in dié fonds gestort.  Twee studiebeurse van £10 elk sal jaarliks aan leerlinge van die plaaslike hoërskool, toegeken word.  Aansoeke sal op meriete oorweeg word.  Die eerste beurse word in 1958 toegeken aan leerlinge van die Hoërskool DF Malherbe, nl. G Ehlers en H Senekal (£10 elk).  Vanaf 1960 is die £25 wat jaarliks in hierdie opvoedingsfonds gestort is, in die Port Elizabeth Opvoedingsfonds gestort.

Ds. Siebert skryf soos volg oor sy bediening in P.E.-Oos:

“Op ‘n Sondagmôre – êrens in Mei, Junie of Julie 1952 moes ons op ‘n beroep na Klipplaat antwoord.  Snaaks hoe ervaar ek nou nog na al die jare, die onrustigheid wat daardie môre in die kerk geheers het.  Teen die einde, net voor ons die seën moes uitspreek, het ons aangekondig dat ons die beroep aanvaar.  Wat ‘n konsternasie!!  In die konsistorie was daar ‘n doodse stilte tot ons afgesluit het.  Dadelik tree die kerkraad na vore en eis ‘n spesiale kerkraads-vergadering vir daardie week met die oog op afstigting.  Die vergadering is die Donderdagaand gehou en na die vergadering het die volle kerkraad na ons huis gekom met die versoek dat ons die beroep in heroorweging moet neem met die oog op die afstigting.  Hulle het gevoel dat ons die gemeente en al die omstandighede ken. Wat ‘n worsteling daarna!!  Na ernstige gebed het die Here duidelik gelei om die beroep na Klipplaat te bedank, en so is die wiele aan die rol gesit, sodat P.E.-Oos in Julie 1952 van P.E. Walmer afgestig is.Ds. Siebert skryf soos volg oor sy bediening in P.E.-Oos:

ds-j-h-siebert

Die nuwe gemeente het die ou kerk in Bullenstraat waarin die moedergemeente (P.E.-Suid) aanbid het – ‘n nuwe kerk is in Januarie 1951 in Walmer in gebruik geneem – sowel as die saal (Petrasaal) as bruidskat ontvang, maar moes die moedergemeente £3000 (R6000) binne twee jaar terugbetaal.  Wat ‘n uitdaging in daardie tyd!!!

Sal ons die eerste groot basaar aan die begin van 1953 ooit vergeet? Wat ‘n wonderlike byeenkoms en geseënde insameling!

Die jong gemeente (Suideinde, Schoenmakerskop, Somerstrand, Humewood, Forest Hill, Humerail en Southdene) het so hartlik saamgewerk en in alles wat aangepak is, hulle volle steun en hulp verleen.  Dit  was werklik ‘n belewenis om in ‘n gemeente te kon werk, waar kerkraad en gemeente self ingespring het om bouwerk, reparasies, verfwerk, ens. te verrig.

As ongetroude leraar het ons die Vroue Sendingbond gestig en was die eerste voorsitter daarvan.  Met tere herinneringe en dankbaarheid aan die Here kan ons nooit vir tannie Maria Visser vergeet vir haar bystand en hulp met die vrouebidure en basaarreëlings nie.

Ons moes ook Kinderkrans hou en ai van waar het al die kreatiwiteit gekom?  Dit was voorwaar ‘n uitdaging.  Ons K.J.V. van destyds was ‘n bloeiende aksie en as ons dink aan al die opofferings wat gemaak is om die byeenkomste by te woon, kan ons die Here net loof en prys.

Die hoogtepunt van die jaar was die afsluiting van al die aksies saam met die kerkraad.  Elke aksie het jaarliks ‘n beurt gehad om die reëlings te tref, maar elkeen was vir ‘n item verantwoordelik.

‘n Belewenis was Sondagaande die oorlopensvol munisipalebus, wat deur die kerkraad gehuur is, wat lidmate vanaf Southdene oor Forest Hill kerk toe vervoer het.

Die gemeente het so uitgebrei – veral Humewood en Somerstrand – dat ons in 1958 ds. R.C.H. Kemp as medeleraar ontvang het.  Teen middel 1960 is hy na Warden.  Aan die begin van 1961 is ds. F.J. van Eeden toe as medeleraar bevestig.  Ons dank die Here vir hierdie manne met hulle eggenotes vir die kosbare dienste wat hulle in P.E.-Oos gelewer het en met wie ons heerlik kon saamwerk.

P.E.-Oos sal altyd vir ons kosbaar wees en bly.  Hierdie gemeente het ons geestelik gevorm en gebou, ons geleer om klein en diep afhanklik voor God te bly.  Hier is ons na nege jaar in die bediening getroud en hier is ons eerste seun gebore.  Alles kosbare stewige bande wat hierdie gemeente in ons lewe onvergeetlik maak!

Ds J. H. Siebert”

1958-60 – Di. J.H. Siebert en R.C.H. Kemp

Prop. R.C.H. Kemp word oor die naweek van 21 Maart 1958 ontvang en bevestig.  Hy word op die Vrydag deur die lidmate in ongeveer 30 motors by die Swartkopspad ontmoet.  ‘n Woonstel in Humewood word as pastorie gehuur.  Die KJV skenk ‘n toga aan prop. Kemp.

Die gemeente word soos volg tussen die leraars verdeel: Ds Kemp bedien  Suideinde, Forest Hill, Humewood en Somerstrand, en ds Siebert South-dene, Humerail en die Vallei.

Die kerk en die saal word in 1958 geverf deur Belgrove en Snell vir ‘n bedrag van £566.

Met die oog op die bou van ‘n pastorie in Humewood word in 1959 by die Algemene Armesorgkommissie
om ‘n lening van £7600 aansoek gedoen met die kerk en saal as sekuriteit.   Mnr Steenkamp is die argitek en die tender word toegeken aan mnre

Kemp en Du Pisanie vir £5680. Bouwerk geskied onder toesig van die argitek.  Die inwyding vind op 31 Okt 1959 plaas.  Die kerkraad en gades word genooi.

Gedurende 1960 word ‘n fonds gestig vir die aankoop van nuwe kerkbanke. ‘n Spaarrekening vir hierdie doel word by Saambou geopen.  Mnr Herman Jonker gee ‘n donasie van £500. Die tender word toegeken aan Gebrs. Isaacs & Kie en word op 11 Febr 1961 in gebruik geneem.  Die ou banke word aan die “Bantoekerk” geskenk.  (Die nuwe banke is later (in 1982) weer  in  die nuwe kerk gebruik)

In 1960 word die eerste 10 de maand insameling gehou – koeverte word hiervoor gedruk

Ds Kemp aanvaar ‘n beroep na Warden en neem op 18 Junie 1960 afskeid van die gemeente.

Oor sy bediening in Port Elizabeth-Oos skryf ds. Kemp soos volg:

Ek was pas uit die Kweekskool en net drie weke tevore getroud met Nellie Murray van Tweeling toe ons in Maart 1958 daar ontvang is.  Die gemeente was destyds baie groot  (ong. 1800 belydende lidmate) en daarom was dit vir ds. Siebert, my medeleraar ‘n uitkoms om hulp te kry.  Maar oor nog ‘n rede was hy bly oor ons koms want hy was nog ongetroud en het tot op daardie stadium die pligte van die predikantsvrou vervul.  Nou sou my vrou die sustersbidure, Vrouesendingbond en Kinderkrans as haar verant-woordelikheid aanvaar.“Vir die 50 jaar wat die gemeente bestaan het, het ek en my vrou Nellie maar ‘n kort tydjie saamgeloop.

Omdat ek nog onervare was, was dit my voorreg om hier saam met ‘n ervare medeleraar soos ds. Johnie Siebert te kom werk, omdat hierdie ‘n buitengewone gemeente was.  Alhoewel die gemeente groot was, was dit finansiëel hulpbehoewend en het dit ‘n eienaardige samestelling gehad – dit het destyds bestaan uit die woongebiede Suideinde (waar die kerkgebou en saal was en wat as ‘n “slums” beskou kon word.), Victoria Park, wat ‘n gevestigde woonbuurt was, Forest Hill wat ‘n behuisingskema was en dan Southdene, wat die barakke vir die lugmag gedurende die Tweede Wêreld oorlog was en wat uitgegee is as goedkoop behuising  vir behoeftiges.  Dan was die Weermagkamp en die welgestelde woonbuurtes van Humerail, Humewood en Somerstrand  die kersie op die koek.

Welgesteldes, middelklas en armes het nogtans hier saam ‘n gemeente gevorm wat in liefde met mekaar in harmonie saamgewerk het in die kerk van die Here.  Dit het veral na vore gekom toe ds. Siebert uiteindelik die vrou van sy drome ontmoet het in die persoon van Freda Ferreira en besluit het om in Januarie 1960 te trou.  Weens die diep spore wat hy in die gemeente getrap het, het die kerkraad besluit om die huweliksonthaal te verskaf en dat die hele gemeente uitgenooi moes word. Kan u dink hoe ons as jonggetroudes wat leiding moes neem met die reëlings ons gestres het oor hoe gaan ons vir omtrent 800 gaste, sonder fondse, ‘n onthaal reël.  Aanvanklik sou ons maar die kerksaal gebruik, maar daar kon kwalik 400 mense ingedruk word.  Die eerste uitkoms kom toe uit die bloute:  Sers. maj. Koen van die Weermagkamp kom bied toe vir ons die onbenutte offisiers menasie aan met genoeg ruimte, tafels en stoele, ‘n kombuis met ‘n koelkamer.  Hy het gesorg dat die saal skoon is en die tafels en sitplekke op hulle plekke was.  Die probleem van ‘n lokaal is uit die bloute opgelos.  Die volgende was borde en glase!  Ons besluit toe om papier borde te koop , maar wat die glase en koppies betref het ons nog met ons hand in ons hare gesit.  Weer uit die bloute kom Sam Oodendaal by ons kuier (Hy was besturende direkteur van Cape Hotels) en bied aan dat hy 800 borde, glase en eetgerei ens. vir ons daar sal besorg.  Vir die eetgoed het die vrouens aan die werk gespring en kon die gemeente aan sy geliefde predikant ‘n reuse troue gee.

Een groot en lekker herinnering aan P.E.-Oos vir ons is die feit dat ons oudste kind, Ronell, daar gebore is.  Ook met haar geboorte het ons soveel liefde ontvang deurdat mense , in hulle armoede, ons oorlaai het met geskenkies van klere en alles wat ons vir ons eersteling kon nodig hê.  Sy was trouens die eerste predikantskind vir baie jare in die vroeëre PE-Suid en PE-Oos. Sy is in Junie 1960 dan ook daar gedoop met ons afskeid.

Van PE-Oos is ons Warden toe tot in 1966 toe ek ‘n beroep aangeneem het na Bothaville en in 1975 skuif ons na Meyerhof waar ek in 1994 afgetree het en my sedertdien gevestig het.

Ons is geseën met twee dogters en ‘n seun.  My seun volg in sy pa se voetspore en word predikant , toevallig ook in Bothaville.  Ons tweede  dogter is getroud met ‘n predikant (wat in die Baai groot geword het) en hulle is op die oomblik in Harrismith gemeente.  Ons oudste dogter is ‘n prof. in Rekeningkunde aan die UOVS.  Verder het ons die groot lekkerte vir die ouderdom nl. sewe kleinkinders.

Hiermee wens ons u alles van die beste toe vir u feesvieringe van 21 September en bid ek dat die gemeente van my eerste liefde deur God se genade  van krag tot krag sal gaan.      Richard Kemp”

1961-63 – Di. J.H. Siebert en F.J. van Eeden

Ds. F.J. van Eeden word op Sondag, 19 Februarie in die gemeente ontvang.  He tree op 16 Junie 1962 in die huwelik en ontvang ‘n trougeskenk van R70 van die kerkraad.  (Ds. Van Eeden het in Desember 1993 as Kapelaan-Generaal van die S.A.Polisie afgetree).

Voortspruitend uit ‘n konferensie vir NG Kerkrade in Port Elizabeth wat op 10 Maart 1961 gehou is, besluit die kerkraad op 28 April 1961 o.a. dat : a) Ouderlinge moet voor elke Nagmaal deur sy wyk gaan (die ideaal niemand behoort Nagmaal te gebruik tensy die ouderling hulle besoek het nie).  b) Met doop moet die ouderling vooraf die ouers besoek, met verslag aan die leraar wat dan ‘n persoonlike onderhoud met ouers sal voer. c) Groter erns moet gemaak word met die uitvoering van die tug, veral t.o.v. ergerlike sonde en van versuim om gereeld eredienste by te woon.

Die kerkraad steun die nuwe sopkombuis wat deur die ACVV te Southdene begin is (1960) en bewillig ook fondse vir die projek.

Volgens ‘n verslag voor die kerkraad op 26 Januarie 1962 is die Groepsgebiederaad besig met ondersoek in Suideinde.  Die kerkraad besluit om vertoë te rig ten einde die deel van die stad as Blank verklaar te kry.  Later in 1962 word die kerkraad meegedeel van ‘n dogter in Southdene wat gekleurde bloed het; moeder, broers en susters is almal blankes.  In beginsel word besluit om hulp te verleen ten einde die dogter toegelaat te kry in ‘n inrigting.

Ds Siebert neem ‘n beroep aan na Ysterplaat-Suid.  Met sy afskeid op 18 Januarie 1963, word De Duin formeel afgestig (amptelik reeds op 28 November 1962).

As bruidskat skenk die reeds sukkelende gemeente die pastorie in Driftsandsrylaan Humewood.  Ds. Van Eeden word as die eerste leraar van die nuwe gemeente beroep.  Port Elizabeth-Oos word herderloos gelaat.

Na afstigting van De Duin bedien Port Elizabeth-Oos die gebiede  Suideinde en Humerail

Ds. Van Eeden skryf soos volg:

“Ek het Sondagaand 19 Februarie 1961 die bediening te Port Elizabeth-Oos met 1 Kor 15:10 ingewaag.  Ek het die preek nou nog:  Genadiglik hou God Sy kerk instand ten spyte van sommige preke!  Min het ek daardie aand geweet dat die belydenis van Paulus oor die “genade van God wat met my is” vir my waar sou word deur talle lidmate van die P E Oos gemeente van daardie tyd.

Dit was goeie en swaartye.  Genadiglik het ek nooit vooruit geweet wat die volgende sinnetjie uit my beroepsbrief in die praktyk sou beteken nie:  “Die kerkraad…..bring verder tot u kennis dat die emolumente aan hierdie standplaas verbonde, ten einde u van wêreldse beslommeringe en sorge te vrywaar, in toelae van die gemeente 884 pond per jaar, plus 300 pond motortoelae.”  Daan dessimaal het dit die volgende jaar “vermeerder na R1768 per jaar plus R600 motortoelae per jaar.  Johnnie en Frieda Siebert het my vir die eerste paar maande “geloseer” vir R20.00 per maand en het ek dankbaar gesien hoe genade “emolumente” kan laat rek.

Wat ‘n genade was my eerste ondervinding van kollegaskap saam met Johnnie Siebert nie!  Hy het my in beskerming geneem en ek kon sy voorbeeld volg.  P E Oos was in daardie dae ‘n “vierkoppige gemeente” bestaande uit Suid einde, Forrest Hill, South Dene en Humewood-Somerstrand met min kommunikasielyne tussen die verskillende woonbuurtes.  Ons het baie genade nodig gehad om ‘n eenheid van dink en doen te bou.  Die Maatskaplike nood en behuisingsellende in baie wyke was groot.  Fabriekshande met die merke van baie ure oortyd was gewillig maar nie altyd so bekwaam nie.  Huisbesoek in sommige wyke was nie vir “sissies” bedoel nie.  Ernst Terblanche (toe diaken) en ek was altwee “ses-voeters” maar ek het menige Vrydagaand agter hom geloop op huisbesoek in South Dene.

Die Victoriastraat pastorie van die Sieberts was die spil waarom alles gedraai het en die dubbelverdiepinghuis het min rus geken, want ons was almal tipe A persoonlikhede wat gehou het daarvan om dinge te laat gebeur!!  Ons moes die “lerende funksie” van die “leraar” dikwels wyd rek om al die sosiale behoeftes en nood aan te spreek.  As ek vandag daaraan terugdink, dan besef ek watter genade dit is om in jou eerste gemeente te leer wat nederigheid en swaarkry is.

Met die geboorte van die Sieberts se eerste seun, Hannes, het Johhnie en ek dikwels vir Frieda in Standford besoek, sommige kere saam, soms elkeen op sy eie.  Tot op ‘n dag dat die strenge Engelssprekende saalsuster ergerlik vir Frieda gevra het:  “en wie van die twee mans is nou eintlik die pa?”

Die genade van die Goeie Gewer het ‘n jaar later Jeanette (Liebenberg) saam met my Oos toe gebring en ons het in die Humewood pastorie ingetrek.  Twee kinderkranse en twee bidure per week was nie vir haar veel nie, maar die oom ouderling van 70 jaar wat haar as “tannie” aangespreek het, was byna te veel.  Wat ‘n genade dat ‘n jong meisiekind van 23 saam met ‘n predikant kom intrek en op sy roeping “voort borduur” asof dit so moet wees.

Ek dink met soveel verwondering terug aan die “genade” van Dr J B Nel wat nou nog nie vir ons ‘n rekening gestuur het vir die bevallings van ons eerste twee dogters nie.  Die “genade” van Harry Andrade wat ons kruideniersware laat koop het, al was die vorige maand se rekening nog nie te volle betaal nie  Die genade van Grieta Muller se heerlike brood en die Ahlfeldts wat ons as hul kinders beskou het.  Die genade om in jou eerste gemeente so baie lesse uit die harde lewe van armoede en swaarkry van baie te kon leer.  Die outhou-beelde van opregte en meelewende lidmate uit P E Oos-gemeente van 40 jaar gelede is vir ons vandag stukkies brandhout op die vuurtjie van herinnering aan dit wat was maar deur genade altyd bly.  As ons in die Baai kom, ry ons dikwels al die ou paadjies van P E Oos- gemeente na – dankbaar vir die Genade agter die genade wat alles in stand hou ten spyte van ons aandeel daarin.

Basie en Jeanette van Eeden”  

1963-1970 – Ds. E.S. Breytenbach

ds-e-s-breytonbach

Ds. E.S. Breytenbach word gedurende die naweek van 17-19 Mei 1963 as leraar van die gemeente ontvang.

Ongelukkig ontbreek ‘n notuleboek vir die periode 1964-1974, gevolglik word gegewens verstrek soos deur ds. Breytenbach in herinnering geroep.

“Die gemeente was ‘n hulpbehoewende stadsgemeente.  Gelukkig was die bedieningspatroon streng korrek  en sekerlik die behoud van die gemeente. 

Ouderlinge het, saam met die leraar, elke huis besoek.  Lidmate is opgesoek in donker stegies, in vertrekke met lamp en kerslig en ‘n vloer vol bakke en emmers om die lekkende dakke se water te beheer.  Die mense wat besoek is, was dankbaar en het belangstelling waardeer.  Die diakens het in hul wyke getrou gekollekteer en dit was ‘n nuttige manier om kontak te hou , al was die bydraes ook min.  Die meeste mense het dit skraps gehad…… droogtes  en die depressie het die mense stad toe gedryf om werk te soek by die destydse Spoorweë en Hawens, as busbestuurders en ook as werkers in fabrieke.  By navraag van herkoms, is Jansenville, Steytlerville, Cradock en Graaff-Reinet genoem.  Hulle het beter dae geken en veral in die ouer geslagte was die kerklik-godsdienstige fondament ‘n buffer om die verval in die nuewe en vreemde omstandighede te verhoed.

Die stigtingsvergadering vir geestelike werk onder Hindoes en Moslems het plaasgevind op ‘n oop stukkie grond langs die Petrasaal in Bullenstraat en die eerste kantoor waaruit hierdie werk behartig is, was net skuins oor in Walmerweg.  Die Kinder-sendingkrans het op Vrydagmiddag om 3 uur byeengekom en die bywoning was baie goed.  Dit lyk of dit vir die kinders ‘n ontvlugting van die strate af was.  Toe die leidster eenmaal gevra het, waaroor sal ons bid, sê een seun ….. dat daar vanaand kos in die huis sal wees.

Met die oorstroming van die Bakensrivier in 1968 is die gemeente grootliks geraak.  Verliese aan huise en besittings was groot, want die water het rakelings dakhoogte bereik.  Uit ‘n fonds van die munisipaliteit en verskeie kerklike en welsynsorganisasies is gepoog om die verliese te vergoed.

As basis en mikpunt vir maandelikse bydraes is een veertigste (21/2%) van die bruto inkomste gestel…..maar nooit as wet van Mede en Perse nie en as almal wat verdien het, dit probeer nakom het, was daar geen tekort in die kerkkas nie.  Basaars en straattafels  het ook baie hiertoe meegehelp, veral deur die opoffering van die vroue-lidmate deur die V.S.B. lede.

Een Sondag, by die oggenddiens het oom Gert Jansen, toe reeds meer as 60 jaar oud, belydenis van geloof afgelê.  Prof B.B. Keet het hom op Graaff-Reinet gedoop.  Ek het ‘n afskrif van die Doopseël met Prof Keet se handtekening aan hom gestuur en gesê vir 60 jaar het die Here oom Gert gedra tot by hierdie aandoenlike en heerlike oomblik.  Oom Gert het wel katkisasieklasse gehad, maar het die rondtrekkery vanweë droogtes of ander omstandighede was dit altyd onderbreek voor die punt van belydenisaflegging.

Die ACVV het ‘n groot aandeel gehad aan hulp en noodverligting in die suidelike deel van die stad.   Werkklasse vir vroue het onder toesig plaasgevind en die verskaffing van voedselpakkette aan behoeftiges is ordelik geadministreer.  Minstens sewe gekwalifiseerde ACVV maatskaplike  werksters het die Patrasaal gebruik as kantoor en vir vergaderings en funksies asook vir onderhoude.

Met die uitvoering van die groepsgebiede-wet moes die bevolking, onder wie, baie gemeentelede, oos van die huidige Kerksentrum, na ander dele van die stad uitwyk, sodat die gemeente wat reeds hulpbehoewend  was, die finansiële mas nie kon opkom nie.  ‘n Heel nuwe gedeelte van die stad het ontstaan met heel nuwe mense.  Dit was sewe swaar jare saam met die gemeente, voor ons vertrek na Alexandria, maar ek dank die Here  dat ek iets kon doen  vir mense wat deel was van my eie volk, my eie vlees en bloed.  Ds E.S.Breytenbach”

Aangesien die kerkdak voortdurend lek, besluit die kerkraad op 14 Junie 1963 om ‘n tender vir R1150 van JJ Ruddy & Sons te aanvaar vir die vervang van die kerkdak.

Volgens Sondagskoolverslag vir 1963 was daar 317 kinders op die rol met ‘n gemiddelde afwesigheid van 57 kinders wat 27% beloop.  Die personeel het uit 21 bestaan met ‘n afwesigheid van 1.5%.

1970-1971 – Ds. G.J. Lötter (Emeritus) (†)

ds-g-j-lotter

Die bedieningstydperk van ds. G.J. Lötter (emeritus) is gekenmerk deur die begin van die sloop van ou Suid-einde.  Die gemeente kon in hierdie tyd nie meer ‘n voltydse leraar bekostig nie en is bedien deur ‘n aantal emeritus leraars en dosente van die universiteit.  Ds. H. de Vos, leraar van De Duin, tree op as konsulent ten tye van die langdurige vakature sedert 1970.  Die gemeente sou hierna, tot 1994, vakant wees, met die uitsondering van die twee jaar (1984-85) met die bediening van ds. Le Roux.

1971-1975 – Dr. J.J. Hattingh

Dr. J.J. Hattingh, dosent in Bybelkunde aan die Universiteit van Port Elizabeth, tree op as hulpleraar van die gemeente.  (Destyds het die tentmakerbediening nog nie bestaan nie en kon slegs voltydse predikante as leraars bevestig

word).Die eerste vermelding van die onteiening van die ou kerk vind ons in die notule van 3 Sept 1974.   Die Humerailsaal of Victoriapark Hoërskool saal word oorweeg vir dienste. Die kerkraad eis R258 000 van Gemeenskapsbou vir die kerk en saal.

In November 1974 bied Gemeenskapsbou, volgens ‘n geswore waardasie, slegs R90 000 aan wat nie deur die kerkraad aanvaar word nie. Intussen laat die kerkraad tog die kerk verf teen ‘n koste van R4560.  In Januarie 1975 laat die kerkraad self ‘n waardasie doen en eis nou R150 000 plus R19 500

vir sekere koste en ook die behoud van meubels en die orrel.  Die kerkraad wil graag die kerk terug huur tot sloping (wat vandag nog nie gebeur het nie) en bied R1200 pj daarvoor aan.  Die bedrag van R150 000 wat die gemeente vir die ou kerk ontvang
het, word by Saambou belê.

In Junie 1975 besluit die kerkraad dat die gewone en gekombineerde kerkraadsvergadering voortaan saam gehou sal word, sodat by elke vergadering kerkraadslede gekies kan word.  (Vroeër was dit die gebruik dat kerkraadslede verkies word en leraars beroep word op ‘n gekombineerde verga-dering wat bestaan het uit die huidige kerkraads-lede sowel as die sg. rustende kerkraadslede).

Dr Hattingh skryf soos volg:

“Vir ‘n kort rukkie was Freda en ek bevoorreg om betrokke te kon wees by die gemeente. Dit het gebeur terwyl ek verbonde was aan die Universiteit van Port Elizabeth. Gedurende daardie tyd is die gebied binne die gemeentegrense stelselmatig opgeruim om plek te maak vir nuwe ontwikkelings. As gevolg hiervan het die lidmate minder geword en kon die gemeente later nie meer ‘n voltydse leraar bekostig nie.Dr Hattingh skryf soos volg:

 Hierdie omstandighede het ‘n baie komiese gebeurtenis veroorsaak.Tydens my verjaarsdag was daar ‘n aantal lidmate by ons om die geleentheid te vier. Die skriba het ‘n gediggie voorgedra om hulle waardering uit te spreek vir ons hulp in die moeilike tyd van die gemeente. Sy woorde kon egter (onbedoeld hoop ek!) óók verstaan word asof ons verantwoordelik was vir die feit dat die lidmaattal gekrimp het!!   

Ons herinneringe aan die mense van die gemeente is besonder mooi. Hulle opregtheid het ‘n blywende indruk op ons gemaak. Daar is ‘n ander uitstaande kenmerk van die mense met wie ons daar ten nouste saamgewerk het. In preke en gesprekke met mense oor die jare het ek dit dikwels aangehaal as illustrasie van hoe die verhouding tussen gelowiges behoort te wees, nl. onderlinge liefde in aksie. Ons het ondervind dat die lidmate hulle vaardighede en kennis gratis tot die beskikking van die ander gestel het. So was een na-ure die haarkapper. ‘n Ander het gehelp met belastingsvorms invul. Oudl. oom Grobbie was die loodgieter. Hy het ‘n slag ook vir ons kom help. Iemand anders het almal gehelp waar daar messelwerk te doen was. Dit was inderdaad ‘n voorreg om hierdie onderlinge liefde te kon sien en beleef.

Ons is verleë oor twee dinge wanneer ons aan die gemeente terugdink.

Die eerste is die feit dat ons haas niemand se name meer kan onthou nie. Gelukkig staan ons aan die verkeerde kant van sestig en sal ons hiervoor vergewe word!

Tweedens het ek en Freda ‘n verpligting in die gemeente skoon vergeet! Dit kom daarvan as mens die kers aan albei kante brand! Die feit dat ons dadelik volkome onvoorwaardelik vergewe was, sal ons egter altyd bybly!

Ons gebed vir die gemeente vir die dae vorentoe is die gebed van Paulus in Ef.1: 17 – 20. Veral bid ons dat julle God sal ken met die oog op julle hoop, roeping en die krag wat Hy in julle wil uitoefen.

Van harte geluk met die mylpaal. Mag die feestelikhede in die teken staan van dankbare herinneringe aan die verlede en ‘n dapper aanvaarding van die uitdagings wat die toekoms mag inhou. Onthou dat dit in alles moet gaan om die Drieënige en Sy Koninkryk.      

Kobus en Freda Hattingh.”

dr-j-j-hattingh

1975  Ds C.W.  de Kock ( †)

Ds C.W. de Kock, emetirusleraar van Eendekuil, word ‘n kontrak vir diens in die gemeente aangebied.

Die kerkraad het reeds in 1973  aansoek gedoen om grond vir die bou van ‘n nuwe kerk.  Daar word nou weer opnuut aansoek gedoen.

1976-1984  – Ds F.P.  Myburgh ( †)

Nêrens in die notule word van die aanstelling van ds. Myburgh (emeritus) melding gemaak nie.  blykbaar het hy nie in die gemeente gewoon nie, en versoek hy die kerkraad om twee vertrekke van die pastorie aan hom beskikbaar te stel sodat hy lidmate vandaar kan besoek.  Die res van die pastorie word verhuur.  Nadat hy teen die einde van 1983 kennis gegee het, beëindig hy sy dienste aan die einde van Januarie 1984.

Volgens ‘n verslag in 1976 is daar 103 kinders in die Sondagskool en 13 onderwysers.  Die bywoning-syfer vir die kinders is 90%.  In 1963 was hierdie getal 317 kinders en 21 onderwysers en  in 1979 krimp hierdie getal na 69 kinders en 10 onderwysers.  Tans is hierdie getal 15 kinders en 4 onderwysers

In Febr 1978 gee Gemeenskapsbou kennis dat die saal ontruim moet word.  Stoele word gelykop verdeel as skenking aan Suurbergkampterrein en plaaslike sending.  Die klavier sal aan  Suurberg-kampterrein geleen word.

Gedurende 1978 word die nuwe Psalm- en Gesang-boek in gebruik geneem.  Die kerkraad besluit om, naas die bestelling van die lidmate, ook nog 50 eksemplare van die nuwe Gesangboek te bestel vir gebruik deur besoekers.

Daar word nêrens in die notule vermeld wanneer die ou kerk ontruim is nie, maar volgens die  Inkomste- en Uitgawestaat vir Des 1979 is ‘n be-drag van R24 uitbetaal vir die losmaak van die banke en R288-00 vir die vervoer daarvan na Suurberg-kampterrein, waar dit geberg is.  Op die eerste vergadering van 1980 word diegene wat gehelp het met die ontruiming van die kerk, bedank.

In Febr 1980 bied die Gemeenskapsontwikkelings-raad drie erwe te koop aan vir R15 000, nl. erwe 1660, 1661 en 1662, totale grootte: 7971m2 .  As voorwaarde word gestel dat die kerk en pastorie op erf 1662 opgerig word en dat erwe 1660 en 1661 gebruik word vir ‘n Sinodale kompleks wat binne 5 jaar gebou moet word.  Intussen gebruik die gemeente  die saal van Victoriapark Laerskool en gee ‘n donasie van R60.  Twee kerkraadslede word op die boukommissie benoem.  Die kommissie word later vergroot tot 4 lede met die saakgelastigde van die Sinode as gekoõpteerde lid.  As argitek word mnr Barnard benoem.   ‘n Kwotasie van Strydom, Basson en Tait  (Edms) Bpk. vir R226 300 word aanvaar vir die bou van die kerk.  Bouwerk sal eers aan die begin van 1981 begin.

Op dieselfde vergadering (Febr 1980) waarop die kerkraad die aanbod van die erwe hanteer het, bespreek hulle ook ‘n brief van Walmer gemeente met ‘n versoek tot skakeling tussen die gemeentes. Daar word besluit om nie met Walmer te konsolideer nie.

Gedurende Maart 1982 word die nuwe kerk feestelik ingewy.  Tydens die inwyding word ‘n nuwe Kanselbybel, Formulierboek en Psalm- en Gesangboek ook in gebruik geneem.  Die program vir die inwyding sluit kore en solosang in.  Die Vroueaksie het die Nagmaalstafel, stoele en gordyne vir die nuwe kerk gekoop.

Kort na die ingebruikneming van die kerk word vermeld dat die kerkdak lek asook ander kleiner dinge wat aandag moet geniet.  In Augustus 1983 lek die dak steeds en word gekla oor die nat mure, glo agv die tipe steen wat nie waterdig  is nie.  Die kerkraad besluit om ‘n kerkklok (luidsprekers) te laat instaleer en dat  ondersoek ingestel word na lugversorging vir die kerk aangesien die kerk baie warm is.  Die argitek beweer dat die kerk ontwerp is dat deure en vensters in kerktyd oop moet wees, dan sal daar beter lugsirkulasie wees.  Die ligte in die kerk blyk ook onvoldoende te wees.

Op die kerkraadsvergadering van 16 November 1982 besluit die kerkraad dat Nagmaal by Huis Munro Kirk (tehuis vir verswakte bejaardes) bedien moet word deur een of twee van die ouderlinge na die Nagmaalsdiens.  Later, met die aanlê van die klankstelsel waardeur die te huis inskakel by die erediens, word die Nagmaal tydens die Nagmaalsdiens deur ‘n ouderling bedien.  Op dieselfde vergadering word ook besluit dat vrouediakens verkies mag word, maar met die versoek dat dit slegs sal gebeur indien daar geen ander uitweg is nie.  Ook word besluit dat anders-kleuriges die eredienste mag bywoon, maar dat dit nie wenslik is nie.

Die twee erwe word aan die Sinode verkoop vir R20 000 wat  weer aan die Sinode terugbetaal word vir die ontwikkeling van die terrein.  Op 15 Februarie

1983 stem die kerkraad in tot ‘n toegangspad oor die kerkeiendom vanaf Mitchellstraat na  die Sinodale Sentrum, asook dat die Sinode vrye gebruik het van die parkeerterrein op die kerk se eiendom (in 1996 word die parkeerterrein tussen die kerk en die Sentrum aan die Sinode verkoop vir R41 600).

Des 1983 – Prop Kritzinger ( †)

Na ds. myburgh se uittrede is die kerkraad daarvan oortuig dat die gemeente nou ‘n voltydse leraar kan bekostig.  Op 27 November 1983 word Proponent Kritzinger van Walvisbaai beroep.  Hy sterf in ‘n ongeluk voordat hy bevestig kan word.

1984-1985 – Ds. I.A. Le Roux

Op 3 Februarie 1984 word prop. I.A. le Roux beroep en oor die naweek van 28-29 April 1984 word hy in die gemeente bevestig.  Hy was die eerste leraar van die gemeente na die bou van die nuwe kerk en die eerste voltydse leraar na ‘n periode van 14 jaar.

Aangesien die kerkraad besluit het om die Victoriapark pastorie te verkoop (R64 000), word Karminrylaan 14 tydelik as pastorie gehuur.   In beginsel is dit reeds goedgekeur om ‘n nuwe pastorie te laat bou op die oop terrein langs die kerk.  Die beraamde koste vir die bou van ‘n nuwe pastorie is R113 000. Die grond is te klein vir ‘n enkelverdieping en moet dus dubbel wees.  Die  koste hiervoor word op R135 000 beraam.  Dit word besluit dat ‘n ander erf gesoek sal word en dat die grond langs die kerk eerder vir ‘n saal gebruik behoort te word.  Op 16 Desember 1984 word besluit om Bayonian 3 te koop teen R90 000.  ‘n Studeerkamer sal later aangebou word (dit is nou nog nie gedoen nie).  Na die vertrek van ds Le Roux word die pastorie verhuur.

Op 27 September 1984 word ‘n Broederlike Onderhoud gehou waartydens spanning tussen die  kerkraad en ds Le Roux bespreek word.  Talle spesiale vergaderings word gehou om probleme te bespreek .  Op versoek van ds Le Roux word ‘n spesiale kerkraadsvergadering gehou op Vrydag 29 Mei 1986  Tydens hierdie vergadering bedank ds en mev Le Roux as lidmate van die NG kerk en dus ook as leraar.  Afskeidspreek vind op 1 Junie 1986 plaas.

Ds Le Roux skryf soos volg:

“Dit was ‘n wonderlike voorreg om u as gemeente te kon bedien vir die twee jaar wat ons daar was. Beide my vrou, Marina, en ek het baie goeie herrineringe aan u as gemeente. Vergun ons om met die viering van die vyftigjarige bestaan van die gemeente u almal te bedank vir die hartlike wyse waarop ons daar ontvang is, asook vir u meelewing gedurende die tyd.  Ons oudste seun, Filip, wat gedurende die tyd in Port Elizabeth gebore is, is nou in Matriek. Die tweede seun, Rudolf, is in graad 10 en ons dogter, Johannelie, in graad 5.

Intussen het die Here ons gevestig in ‘n voltydse videobediening met die naam Kérugma Produksies. Ons gee gereeld ‘n omsendbrief, die Kérugma Bulletin, uit. Dit, sowel as ‘n katalogus van die video’s is op aanvraag by ons kantoor asook op ons webblad beskikbaar. Kérugma Produksies is ‘n geloofsonderneming wat ten doel het om die evangelie van Jesus Christus wêreldwyd deur middel van hoë gehalte media produksies uit te dra. Nou weet u waar ons is en waarmee ons besig is. U gebede vir hierdie bediening sal baie waardeer word. Ons sal ook baie graag van u wil hoor. 

Seën met die feesvieringe en baie dankie vir die uitnodiging om daar te wees. Ongelukkig sal ons volgens ons voorlopige program dit nie kan bywoon nie, aangesien ons moontlik in Israel besig sal wees met die verfilming van ‘n reeks video’s oor die lewe van Jesus.

Die Here Jesus Christus se seën u toegebid.   Naas le Roux”

 1986-1994 – Dr. J.C.T. Havemann

Net soos dr. J.J. Hattingh (1971-1975) was dr. Havemann dosent in Bybelkunde aan die Univer-siteit van Port Elizabeth.

Op ‘n spesiale kerkraadsvergadering, gehou op 5 Junie 1986,  word besluit om dr JCT Haveman,  wat met studieverlof is tot einde van daardie jaar, te nader om in die gemeente te arbei, nl huisbesoek en prediking, vir ten minste 6 maande.  Salaris R550 per maand.  Hy word egter nie bevestig nie, maar tree op as pastorale hulp.  Vele pogings is aangewend om vir hom volle leraarstatus te verkry, maar volgens die destydse kerkorde was dit nie moontlik nie.  (Die tentmakersbeginsel is eers in 1994 deur die Algemene Sinode goedgekeur). Hy woon egter wel kerkraadsvergaderinge by, met toestemming van die kerkraad.

Teen die einde van 1990 aanvaar die kerkraad in beginsel dat dr. Haveman as tentmaker na die gemeente beroep kan word en besluit om die leiding van die Ring in hierdie verband te vra.  Aangesien die Algemene Sinode toe nog nie die gebruik van tentmakerbediening goedgekeur het nie, kon die kerkraad se besluit om ‘n tentmaker te beroep, nie uitgevoer word nie.

Op 20 Februarie 1990 verneem die kerkraad dat die gemeente Port Elizabeth-Noordeinde met die Moedergemeente saamgesmelt het en dat die pyporrel van Noordeinde te koop is teen R20 000.  Dit word besluit om dit aan te koop en te laat installeer.  Die ou orrel word aan die NG Kerk in Afrika in Motherwell geskenk.

Gedurende 1991 word verwarmers en dakwaaiers in die kerk geinstalleer vir R12000 en buisligte vir R2200.

Die kerkdak lek voortdurend en na vele pogings om die bouers te kry om die lekplekke te herstel, besluit die kerkraad in Augustus 1993 om die dak op eie koste te laat herstel.  ‘n Kwotasie van Clad All vir die bedrag van R50 000 word aanvaar.

Op 25 Oktober 1993 dien ‘n aanbeveling van die Admin Kommissie voor die kerkraad dat die gemeente nou ‘n voltydse leraar kan bekostig.  Op Sondag 31 Oktober word ‘n gemeentevergadering gehou waartydens die gemeente ingelig en die beroep van ‘n voltydse leraar gemotiveer word.  Ds. B. Peters van Rietbron word op 21 November 1993 beroep.

Die volgende skrywe is van dr. Havemann ontvang:

“Hoe sal ek die agt en ‘n half jaar wat God vir ons in Port Elizabeth-Oos gebruik het beskryf.  Ek sou uiteenlopende metafore kon gebruik, want dit was ‘n tyd van woelinge onder die lidmate, faksies en allerlei ander gedagtes.  By baie gemeentelede was daar ‘n verlange na ‘n permanente leraarsgesin.  Ongelukkig was die finansiële posisie van die gemeente sodanig dat die wens nie gerealiseer kon word nie.

Dit is toe dat die Ringskommissie een aand tydens ‘n motorrit vir my vra:  “Wil jy nie vir twee jaar help nie?”  Die twee jaar het agt en ‘n halwe jaar geword.  Ons as gesin se werk wil ek graag as brugbouers beskryf.  Die brug waaraan ons gebou het en waarvan God die argitek was, is soms deur sekere lidmate gesaboteer.  Gelukkig was hulle en andere in die minderheid.  Wat ons in hierdie tydperk gedra het, was die praktiese raad van Jakobus 1:5 “As een van julle wysheid kortkom moet hy dit van God bid”.  Saam met die kerkraad is die gemeente deeglik besoek, bemoedig en saamgesnoer.

‘n Paar bakens wat in hierdie tyd opgerig is, is die volgende:  Die elektroniese orrel word deur ‘n pyporrel vervang, die kerkdak wat vanaf die vroegste jare probleme gegee het, is herstel, ‘n heerlike verwarmingstelsel vir die winter is nie sonder slag of stoot geinstalleer nie.  Die finansiële tekort word in ‘n plus omgesit.  Op geestelike gebied kon daar een jaar aan die Ring gerapporteer word dat die kerkbywoning 67% was – die beste in die Ring.

Dankie aan almal wat saamgebou het aan die brug, ‘n besondere woord aan my vrou wat bemoedig en gebid het.  Dankie aan almal wat die tyd van krisis help omskep het in ‘n geleentheid.

Geluk met nog ‘n baken.   

God seën Port Elizabeth-Oos 

Japie en Elize Havemann

1994-1996 en vanaf 1996 tentmaker – Ds. B. Peters

Ds. Peters word op 22 Januarie 1994 in die gemeente as eerse voltydse leraar vir die gemeente in 10 jaar bevestig.

Vanaf Jan 1994 tot Sept 1994 bewoon ds Peters die pastorie.  In Maart 1994 verleen die kerkraad goedkeuring dat ds Peters sy eie huis mag koop binne ‘n beperkte gebied van Walmer (3de Laan) Humewood (La Roche-rylaan) en Suideinde.  Die pastorie  word verhuur, terwyl ds. Peters ‘n subsidie ontvang. Die Ring verleen goedkeuring dat ds. Peters buite die gemeentegrense mag woon.

Op 8 Nov 1994 besluit die kerkraad om weg te doen met kleredragvoorskrifte vir kerkraadslede en dat elkeen kan aantrek waarin hy/sy gemaklik voel.  Die kerkraad besluit ook by ‘n ander geleentheid dat kerkraadslede by hul gesinne mag sit.

Die kerkraad besluit op 20 Februarie 1995 dat die gemeente met De Duin sal verening aangesien die gemeente nie veel langer finansieel sal kan oorleef nie. ‘n Gemeentevergadering word op 5 Maart 1995 gehou waarop besluit word dat ander moontlikhede ondersoek moet word.  Na vele onderhandelinge en met  die leiding van die Ringskommissie word die voltydse leraarspos vanaf 1 Oktober 1996 omskep in ‘n tentmakerspos.  ‘n Ooreenkoms is met ds. Peters aangegaan waarin ‘n totale salarispakket van R60 000 aangebied word vir 60% van die leraarswerk.  Die res van sy inkomste moet hy self voorsien.

Op 15 Maart 1995 ontvang die kerkraad ‘n brief van die Sinode wat handel oor ‘n probleem wat die Sinode ondervind i.v.m. te min parkeerplek vir die kantore.  Die kerkraad besluit om die parkeer-plekke tussen die Sinodale Sentrum en die kerk aan die Sinode te verkoop vir R41 600.

Volgens ‘n verslag aan die kerkraad op 5 Mei 1997 het die lidmatetal gedaal vanaf  315 tot 288

Aangesien die aanddienste swak bygewoon word, besluit die kerkraad om daadwerklik te probeer om die bywoning te verbeter.  In 1997 word begin met kitaar en sangbegeleiding tydens die aanddiens. Die bywoning het aansienlik verbeter.  Ongelukkig het die sangleier uit die gemeente verhuis, Gevolglik het die aanddienste maar weer gekwyn.   Hierna is probeer om ‘n gesamentlike aanddiens saam met De Duin te hou.  Dit het goed begin, maar ook later verswak.  Aan die begin van 2002 was die bywoning so swak (soms net 5) dat die kerkraad besluit het om die aanddienste heeltemal af te stel.

In die lig van die feit dat ‘n hele aantal gesinne in die gemeente finansiëel swaarkry en ‘n aantal gesinne reeds alimentasie ontvang, besluit die kerkraad in 1999 op ‘n bedrag van R800 per maand vir alimentasie.  Enkele lidmate word ook van tyd tot tyd uit die Sinodale Hulpfonds gehelp.

Arbeidswetgewing het sodanig verander dat gemeentes ook dienskontrakte met elke amptenaar (insluitend die leraar) moes opstel.  In 1999 stel die kerkraad volledige dienskontrakte, posbeskry-wings en ‘n personeelkode op.

Sedert 1995 het die gemeente sy jaarlikse basaar in die kerksaal van Walmer gehou.  In Nov 2000 besluit die kerkraad dat die jaarlikse basaar vervang sal word met ‘n kermis.  Hiervoor word die motorhuise van die sinode gebruik asook die grasperk langs die kerk waarop drie groot tente opgeslaan is.  In 2001 was dit ‘n pragtige dag, maar in 2002 was dit ‘n yskoue reënerige dag.

Verskillende fondsinsamelingsprojekte word in hierdie tyd gehou, bv.  potjiekoskompetisie, spit-braai, kabaret en buffet-aand,  tee by die sinodesitting van 1995, etes tydens die Sybokhaarkwekersvereniging se jaarvergadering, gereelde Vrydagaand-wegneemetes, koek- en  straat-verkopings, golfdag, vierwieltrek naweek, ens.

Dit was vir my ‘n voorreg om hierdie gedenkskrif saam te stel. Om die geskiedenis van my voorgangers na te vors en te boek te stel, was interessant en inspirerend.  Die laaste 8 jaar van die gemeente se geskiedenis het ek self beleef.  Ek hoop dat u, soos ek ‘n klompie dinge in hierdie boekie teëgekom het wat u nie geweet het nie, of wat u al vergeet het.

Die gemeente se voortbestaan was dikwels in die weegskaal.  Mag ons begenadig word om in die ongebore toekoms  voort te bou op die fondamente wat vir hierdie gemeente gelê is deur ons voorgangers.  Ons sal die onbekende toekoms met vertroue ingaan.  Dieselfde God wat in die verlede gelei het, sal ook môre en oormôre lei.

Bas Peters

LIDMATETAL

 

JAAR BELYDEND DOOP JAAR BELYDEND DOOP
 
1951   (P. E. Suid)            1620 1280 1977 232 164
1952   (P. E. Suid)            1514 1337 1978 244 160
1953 800 1979 233 152
1954 850 600 1980 254 134
1955 940 925 1981 228 78
1956 972 941 1982 226 103
1957 1338 1573 1983 230 105
1958 1612 1431 1984 254 91
1959 1639 1416 1985 254 106
1960 1639 1416 1986 277 80
1961 1581 1398 1987 278 85
1962 1988 270 80
1963 de Duin afstigting   1450 1600 1989 279 70
1964 1031 869 1990 265 104
1965 1991 310 75
1966 522 461 1992 320 85
1967 621 582 1993 320 60
1968 772 575 1994 320 60
1969 655 684 1995 320 60
1971 493 432 1996 320 60
1972 434 213 1997 320 60
1973 372 291 1998 271 43
1974 153 199 1999 265 50
1975 140 148 2000 220 47
1976 182 96 2001 200 31

Gegewens soos deur die Kaapse Kerkargief  voorsien.   Die gegewens is altyd die vorige jaar se gegewens aangesien dit saamgestel is uit gegewens uit verslae van die vorige jaar (1992 –1997 blyk nie getroue syfers te wees nie)

 

 img_20161130_063354